ONS BEDIENING
Sonskynwoud vir alle kinders deur al die eeue,
want aan sulkes behoort die koninkryk van God.
Sonskynwoud is werklik geskep deur die Here en uitgevoer deur Ronéll van Rooyen en haar gesin soos op links die foto’s Sioné, Anke en Pierre. Brettian Productions se eienaar Danny Antil en medewerker Ryan Johnston (video en redigering),  het die produksie ‘n werklikheid gemaak,
deur lewe te gee aan die stories en liedjies.

Ronéll is ’n passievolle ma wat graag stories opgemaak het vir haar kinders om hul goeie gedrag en Bybelse beginsels te leer. Toe sy vir Anke en Sioné op 6jr begin tuisskool het (en steeds doen), het sy vir hulle die alfabet, klinkers en ook Bybelverse geleer deur liedjies op te maak.

Reeds in 2008 het die Here Ps 9 :2-3 een oggend vir haar in stiltetyd gegee...die opdrag om dit te deel. Te gaan sing en vertel vir ander kindertjies as hulp ook vir ander mammas. Wat begin het as ‘n idee van ’n CD en boekie, het Danny groter gedroom na ‘n DVD reeks en vandag is daar ’n hele verskeidenheid uit haar pen:
*Storie CD oor Jesus se wonderwerke wat fokus op Hom;
*Liedjie CD met 23 liedjies waarvan die meeste gospel en die res
  opvoedkundig is.
*Musiek DVD met 15 van die liedjies van die CD op.
*DVD 1 & 2 met saam 9 episodes wat kinders laat ontvlug in die vrye,
  gelukkige wêreld van die woud. Daar leer hulle Jesus ken en laai hulle
  hul probleme af.

Die bediening is hoofsaaklik op hierdie bg. media, maar die gesin is bereid om kerke of skole te besoek en op te tree deur ook ‘n episode aan die kinders te wys.

Ronéll voel sterk daaroor dat hierdie bediening se hoofdoel is om kinders die Woord te leer eerder as om hul te vermaak. Daarom dan ook het Ronell soveel navorsing in gesit in die skryf van al die episodes om kinders meer as net ’n Bybelvers te leer. Die episodes spreek werklike huislike gebeure aan en die fantasie dat die diere met die gesin kan praat, bring dit op die kleuter se vlak. Kleuters praat met diere en hulle eerste belangstelling is meestal diere veral klein diertjies. Die woud word geskilder as altyd sonnig, juis om kinders met hartseer, ‘n plek van ontvlugting te gee wanneer hulle daarna kyk in hul eie veilige omgewing. Daar is ook gekonsentreer op suiwer Afrikaans en geen woorde uit Engels word gebruik nie, al is dit vandag se mode gier.

Die toekoms van Sonskynwoud is in die Here se hande. Hier is geen borge betrokke nie en die volgende produkte kan net geskep word sodra die huidiges genoeg verkoop het om weer geld in te samel. Ronéll en haar gesin het ’n passie vir siele, en glo om ‘n kind te verander, is om ’n hele nasie te verander oor die jare.

Anke en Sioné was in 2013 met die begin van die produksie 10jr en 8jr oud en het dit geniet om deel te wees as poppekas hanteerders en stemkunstenaars; sangers en akteurs saam met hul ouers en poedels. Pierre was gemakliker met die poppekas as die akteur-speel en kom nie in elke episode voor nie. Dit was egter nodig om hom deel te maak om die beeld van ‘n gesonde fuksionerende gesin te skep wat hulle dan ook as gesin so maklik kon vertolk, want Sonskynwoud is wie hulle werklik is. ’n Gesin vol pret en liedjies en diere en Bybelverhale, lief vir die Here en die natuur.

“Vir die Heilige Gees om te kan werk, moet ons die kinders kan bedien. Vir ons om te kan bedien, moet ons kindertjies bereik. Om dit te kan doen moet hulle oop en rustig in hul eie bekende omgewing wees. Daarom verkies ons om nie met ‘n groot vermaaklikheid op te tree nie, maar ons hartsbegeerte is om agter die skerms te bly, sodat Jesus opgelig kan word.

Ons het nodig dat elke ouer en elke onderwyser en elke ouma en oupa, ons hele stel produkte vir soveel kinders as moontlik sal koop. Afrikaanse kinders reg oor die wêreld, sodat ons hulle kan leer om weer kaalvoet in die wind te hardloop en in Sonskynwoud te speel en lag. Te leer om te vertrou op die Woord en Jesus..en om in Jesus se arms te dans.....tot eer van God. ” Ronéll